Mea Culpa
Ek lees gister Rian van Heerden se rubriek in Beeld waarin hy bieg oor ʼn hele paar wilde dinge wat hy in sy lewe aangevang het. Dis nou na aanleiding van onse Joost wat uiteindelik in die spieël gekyk het en besluit het om ook maar die waarheid te vertel. Die volle waarheid en niks anders as die waarheid nie, of so sê hy. Soos gewoonlik geniet ek Rian se droë humorsin geweldig. En net daar en dan besluit ek toe om hierdie blog te gebruik en te bieg oor iets in my verlede.
Elke keer as ek Melville toe ry, en ek sien die Millpark Holiday Inn daar staan, dink ek aan daardie Intervarsity, jare gelede. Danksy naamsveranderings staan nie een van die twee universiteite meer as RAU of PU vir CHO bekend nie, maar die Intervarsity waarvan ek praat, was tussen RAU en die Pukke. As ek moet skat was dit die jaar 1983.
My beste vriendin van daardie jare was Lorraine. Ons twee se kamermaats, Sandra en Hanri, was altwee stil en rustig, ware dames, elk met ʼn vaste kêrel. Ek en Lorraine, of Tommie, soos ek haar genoem het, het nie in daardie kategorie geval nie. By haar het ek nogal geleer om kanse te waag, en bloot net lekker laf te wees. Na al die jare bly ons nou sowaar weer binne ʼn radius van vyf kilometer en dis nogal jammer dat ons besige lewens ons nie toelaat om meer dikwels te kuier nie.
Dis voorwaar pret om universiteit toe te gaan met ʼn ouer broer daar op die kampus. Daardie voorreg het my te beurt geval want my broer Francois, is twee jaar ouer as ek. Net in sy vriendekring alleen was daar ʼn hele paar aantreklike manne, en ʼn mens was altyd veilig om in die groep te kuier.
Soos studente nou maar is, besluit ons op die ingewing van die oomblik om Johannesburg toe te ry vir die Intervarsity. Noudat ek hier sit en terugdink, kan ek nie eers onthou waar die wedstryd gespeel is, en of ek dit ooit gesien het nie. Wat ek wel kan onthou, was die nag in die hotel. En dit is presies daaroor wat ek nou hier wil bieg.
Met die Bloemfonteinse Intervarsity wat ons elke tweede jaar bygewoon het, het ons iewers op die kampus in ʼn koshuis verblyf gekry. Ek kan nie onthou waarom ons dit nie maar ook met die RAU Intervarsity probeer het nie.
My broer en ʼn klomp van sy vriende vertrek toe saam Johannesburg toe. Nie ek of Tommie het ons eie kar gehad nie, maar soos ware Foksterriërs spring ons in, die oomblik as die wiele draai. As jy ʼn student is, is ʼn uur heeltemal te lank om te ry sonder ʼn pitstop. Halfpad tussen Johannesburg en Potchefstroom het die konvooi motors eers stilgehou, vleis gebraai en natuurlik so ʼn glasie of twee gedrink ook. Daardie jare was ek en Tommie getroue Rosé drinkers. Nooit ooit het ons iets sterker as dit gedrink nie.
Toe ons uiteindelik in Johannesburg aankom, het die alkohol ons nog meer bravade gegee as wat gewone studente het. Ek kan glad nie onthou wie se idee dit was nie, maar net daar en dan word daar besluit om vir ons ʼn hotelkamer te huur vir die nag. Katjie was die aangewese persoon om te stuur om die kamer te huur. Hy het nogal ʼn goeie indruk met die eerste oogopslag gemaak. En toe is ons twee vir twee op na die gehuurde kamer. Ek dink daar was in totaal 12 van ons wat die nag die hotelkamer gedeel het. Ek, Talitha, wat later my skoonsus geword het, en Lorraine was die enigste dames in die groep. Ons drie het die dubbelbed se basis gekry. Francois, Hannes, en Cassie het die dubbelbedmatras gedeel, as ek nou reg onthou. Die res het in die gang, en in die badkamer en op die stoel geslaap.
Drie meisie en 9 mans? Mmm, ek is seker dit klink opwindend maar daar het rêrig geen onheilighede plaasgevind nie. Die kick wat ons daaruit gekry het was om nie uitgevang te word nie!
Soja, daar is dit uit! En nou het ek klaar gebieg. Ek hoop die bestuur van die Hotel sal ons daardie vergryp vergewe. Ons het nie die hotel se handdoeke ingepak, of enigiets beskadig nie. Ons was bloot net te veel vir die kamer.
“Moet tog net nie vir my kind van daardie keer vertel nie,” sug Lorraine een aand toe ek en sy weer oor ʼn glasie wyn sit en terug dink aan daardie aand, 26 jaar gelede. Sy staan nou in ʼn baie gerespekteerde beroep en ons het altwee groen koring op die land. Die foto waar ons almal op die bed sit, lê ook nog hier iewers in ʼn laai.
Ek is seker van die manne wat saam met ons in die hotelkamer geslaap het, moet ook nou vername sakemanne wees, elk met ʼn gesin van hulle eie. Ek wonder of hulle ook aan daardie aand terugdink as hulle verby die groen glasgebou in Aucklandpark ry?