Katte is wispelturig

Katte is wispelturige wesens

“Dis ʼn stereotipe dat mans nie van katte hou nie,” sê Steve Hofmeyr anderdag aan my. Ons is besig met ʼn onderhoud vir ʼn artikel wat ek moet skryf. Sy pragtige swart kat, Kolos, of is dit dalk Colos, loop katvoet, stert in die lug rond. Duidelik baas van die plaas. Hy vertel hoe die kat op hom gelê het in die tyd wat hy herstel het van die kolostomie. Al glo hy wat Steve is glad nie aan enige New Age nonsens nie, sê hy, weet hy dat die kat se teenwoordigheid hom beslis vinniger laat herstel het.
“Ek is bly om te sien jy hou van katte,” het ek effe vroeër aan Steve gesê, en dis toe dat hy sê dit is bloot ‘n stereotipe dat mans nie van katte hou nie. Steve raak toe die volgende verrassende wysheid kwyt: “Mans hou daarvan om in beheer te wees, en katte laat nie toe dat hulle beheer word nie. Dit verklaar waarom baie mans nie van katte hou nie, want hulle weet hulle kan nie die kat beheer nie.” Ek en Steve praat natuurlik van vier been katte. Hoe meer ek aan hierdie stelling van hom dink, hoe meer besef ek dat dit baie waar is.
Maar gelukkig is ek ‘n vrou. My liefde vir katte kom ʼn lang pad en ek het al vele kere daaroor geskryf. Hoe wispelturig ʼn kat kan wees, het ek nou net weer eens hierdie week wat verby is, gesien.
Ozzi, my driebeenkat wat misterieus verdwyn het en van wie ek nooit weer enige taal of tyding gekry het nie, se plaasvervanger is Nina Pretty Ballerina. Petronell noem haar die rebound katjie. Maar glo my, Nina het spoedig diep in my hart gekruip en beslis gehelp om die seer van Ozzi beter te maak.
Nina is een van daardie gewone grys streep katjies, niks spesiaal aan haar nie. Tog het ek nou al geleer die grys streep katjies verloor die minste hare, en daarom is ek dol op hulle. En as ʼn mens lief is vir ʼn troeteldier, maak dit nie saak hoe hy of sy lyk nie.
Nina het ook maar haar eie nukke en grille. Sy lê net vroeg in die oggend op my skoot. As ek hier voor die rekenaar kom sit terwyl die wêreld daar buite begin ontwaak, spring Nina op en dan lê sy tevrede en spin. Wanneer ek uiteindelik opstaan om Amanda skool toe te vat, spring Nina af, en dan moet ek nie eers probeer om haar weer op my skoot te tel nie. Môreoggend sal sy self terugkom.
Maandagaand laat laai vriendin Elsabe vir my en Amanda hier voor my huis af. Toe ek uitklim, hoor ek my kat kerm. Amanda gewaar haar eerste waar sy bo-oor ʼn dakbalk hang. “Nina, wat maak jy daar,” raas ek, maar die katjie roep net meer benoud. Amanda is die huis in om ʼn stoel te gaan haal. Meteens roep sy uit: “Ma, hier is Nina hier binne.”
Die katjie wat daar bo oor die balk hang, lyk op ʼn druppel water soos Nina. Toe ons haar uiteindelik daar af het, merk ek wel die verskille. Sy is so ʼn klein bietjie jonger as Nina, haar strepies is ʼn bietjie donkerder en haar oë en haar ore is beslis groter as die van Nina.
Wel, met sulke groot oë, word sy toe spontaan Betty Davis gedoop na aanleiding van Kim Carnes se treffer van die tagtigerjare: Betty Davis’ Eyes.
Die drie honde is baie opgewonde oor die nuwe katjie, maar na dreigemente en ʼn raps of twee, laat hulle haar vir eers met rus. Nina is ʼn ander storie. Sy haal die vreemdste geluide uit. Ek het glad nie geweet ʼn kat kan so klink nie.
Ek skryf vir vriend Francois Bloemhof van die nuwe kat en Nina se onaardse reaksie, en hy laat weet: “Natuurlik sal die Danskoningin (Dis nou Nina) upset wees, die indringer het dan boonop haar voorkoms gesteel!!!”
Klein Betty is gou tuis en maak vinnig of die huis aan haar behoort. Haar gunsteling lêplek is in Amanda se kamer op die bed. Ek het Dinsdagoggend ʼn kennisgewing op die kompleks se hek gaan sit van die verlore katjie wat by my opgedaag het, maar niemand eis haar op nie.
“Ek wonder waar kom sy vandaan,” sê ek Saterdag vir Petronell. Ons loer na die klein kat wat daar op die buffet lê en slaap. Sy en Nina het al selfs ʼn keer of wat mekaar minder vyandig aangestaar en dinge is beslis besig om te normaliseer. Selfs die honde kyk nie eers meer op as die klein kat verbydraf nie.
Maar nou ja, katte is wispelturige wesens. Sondagoggend toe ek opstaan, is Betty Davis weg. Spoorloos weg. Ek kan nou nie eintlik na die kat soek nie, want dit is nie my kat nie. Dalk het haar eintlike eienaar haar iewers sien loop en haar teruggevat. Dalk het sy net besluit die hawe waar sy aangedoen het, was ʼn aangename ervaring, maar dit is tyd om weer die pad te vat. Dalk het sy weer haar ware huis gevind.
Natuurlik is ek hartseer oor die klein kat. Sy het in ʼn week se tyd diep in ons harte gekruip. Miskien kom sy terug. Miskien spring sy môreoggend deur die kamervenster wat altyd oopstaan.
Tog weet ek ek moet nie my hart daarop sit nie. Katte is onpeilbaar, en hulle sal nooit aan ons behoort nie. Ons, behoort aan hulle, mits hulle ons kies.
Loop ekstra sag, Betty Davis, jy is baie spesiaal.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Connecting to %s


Follow

Get every new post delivered to your Inbox.