Die mense wat ek liefhet
Die liedjie, Die mense wat ek liefhet, draai nou al van Saterdagaand af in my kop. Saterdagaand het ons my ouers se vyftigste huweliksherdenking gevier. Vyftig jaar is lank, soos my broer Francois, as seremoniemeester, gesê het. Daar is nie baie van ons wat dit gaan regkry nie. Al word ek 100 jaar oud, is die kans dat ek nog so ʼn goue huweliksherdenking kan vier, eintlik weglaatbaar klein.
As geskenk vir hierdie okkasie, het sus Heleen ʼn pragtige boek saamgestel waarin ons almal se foto’s en gelukwense, bymekaargesit is. Saterdagmiddag sit ek toe op Heleen se stoep in Irene en ek kyk die album deur. En daar op die bladsye van die boek, is toe nog foto’s van al die oupas en oumas wat nou nie meer een met ons is nie. Dit het my oneindig hartseer gemaak. Natuurlik ook die foto’s van ʼn mens se eie kinders toe hulle nog sulke skattige kleutertjies en peutertjies was, en glad nog nie wêreldwyse tieners wat nie meer wil hê jy moet om hulle kloek nie.
Die aand het regtig seepglad verloop. Francois, as seremoniemeester het hom uitstekend van sy taak gekwyt. Hy kan gerus ʼn loopbaan as professionele MC oorweeg
Ek en Heleen het elkeen ook ʼn beurt gekry om ietsie oor Oupa Cas en ouma Koekoe te sê. Maar so in die middel van die aand het my swaer Dewet ʼn besonderse DVD gewys. Hy is heel bedrewe met die saamstel van tuis DVD’s waarin hy die hoogtepunte van spesiale geleenthede, of mense se lewens saamvat. Hierdie DVD bevat toe grepe uit verskillende tuisfilmpies wat my pa oor die jare gemaak het. Dit begin met ’n amptelike troufilm van my ma en pa en dis nogal snaaks om die twee as bloedjong verliefdes te sien. Die bruilofstoet met die lang slap karre uit die vyftigerjare is luidkeels deur almal wat Saterdagaand saam kom kuier het, toegejuig. Al die oupas en oumas is toe ook daar op die skerm. Die films volg chronologies soos ons ouer word. Dis kosbaar om te sien hoe ek en Francois en Heleen self nog tjokkertjies is met die wêreld wat wyd en oop voor ons lê. Later opgeskote tieners tot met die laaste film wat van Francois se uitpasseringsparade geneem is. En sowaar, daar is Lieb Bester toe in sy uniform te sien, plus minus 25 jaar jonger as wat dr. Fritz Retief nou is. Ek onthou nog goed hoe opgewonde ek daardie tyd was om Lieb daar in Oudtshoorn te sien waar hy een of andere hoё weermagrang beklee het by 3 SAI. Dit was voor die dae wat hy weer sy terugkeer na die televisieskerm gemaak het. Dan is daar ook tonele van ooms en tantes in die Kaap, my pa se Steenkamp familie en natuurlik die Wolmaranse, my ma se familie. Een van die liedjies wat Dewet as agtergrondmusiek gebruik het, is toe Die mense wat ek liefhet.
Onthou jy nog die woorde? Die mense wat ek liefhet, kom groei op my soos mos, daar laat ek hul na hartelus gedy… En dan ook: Maar as iemand wat op my gegroei het, weg moet gaan, dan sit daar ʼn seerplek, dan sluip ek deur die wêreld, die kwesbaarheid self, ek met my seerplek wat net nie wil genees nie…
Baie van die mense op die film, het natuurlik weggegaan uit my lewe. Die meeste weggevat deur die dood, ander bloot deur die lewe. Almal mense vir wie ek baie lief was, en wat elkeen ʼn merk in my lewe gelaat. Selfs ʼn kêrel of twee. En toe besef ek net van voor af hoe swaar dit soms is om mense te laat gaan, veral die vir wie jy baie lief was. Maar gelukkig is daar nog genoeg mense in my lewe wat ek kan koester, wat nog steeds vir my ’n moslaag is wat my teen die lewe se aanslae beskerm. Ek is voorwaar geseënd!
NS. Die aand het toe wel nie heeltemal so seepglad verloop nie. Laataand, toe ons in my ouerhuis instap, is die hele plek in donkerte gehul. My pa het sy bes probeer om by die skakelbord in die kombuis die hoofskakelaar weer aan te sit, maar dit was tevergeefs. Eers die volgende oggend het hulle ontdek die hele kragboks wat voor in die tuin was, is tot een massa plastiek versmelt. Geen moslaag kon dit beskerm nie en die twee gaan nog vir dae sonder elektrisiteit wees.