‘n Wit Kersfees

Kleintyd het Kersfees bloot een patroon gehad. Vroegoggend, op die oggend van ou-Kersfees is ons na De Kroon toe, daar waar Ouma Thys en Oupa Dois op ’n plasie net buite Brits gewoon het. Met ons aankoms is daar na ’n geskikte boomtak gesoek om as Kersboom te versier. Ouma Thys het elke jaar sakke vol Kersversierings gehad. Sy was die bestuurder van die skoenwinkel op die dorp en wanneer die kersversierings uit die winkelvenster verwyder is, het sy dit gekry en iewers gebêre vir ons om die volgende Kersfees ons ‘boom’ daarmee te versier.
Natuurlik was daar jaarliks die gebruiklike Kerskonsert. My taak as die oudste niggie, was dan om die kleintjies af te rig vir die groot konsert. Ouma se JanHarm pop was elke jaar die baba Jesus. Laatmiddag het ons vyf, ek, Francois en Heleen, en ons niggies Lerita en Irene, die son byna met klippe gegooi sodat dit net kon donker word want wanneer dit donker is, mag die geskenke uitgedeel word.
Kersoggend is daar kerk toe gegaan, terug huis toe en dan is die Kerstafel onder die groot lukwartboom gedek. Ouma se sementtafel onder die boom het behoorlik gekreun van al die kos. wel, dit is nou te sê as ’n sementtafel kan kreun! Varkboud, hoenderpastei, soet patats, te veel om op te noem en natuurlik die poeding propvol een en twee en vyfsentmunte.
So het dit elke jaar verloop. Van jaar tot jaar was die enigste verskil die geskenke wat ons gekry het, en die hoeveelheid buit wat jy uit die Kerspoeding gemaak het.
Tog is daar een Kersfees wat helder bo die ander uitstaan. ’n Wit Kersfees in die middel van Suid-Afrika se warm somer.
Aanvanklik het alles volgens dieselfde patroon verloop. Ons het ou Kersdag op die plaas aangekom, die geskenke afgedra en gou-gou verdwyn voordat daar te veel werk aan ons uitgedeel word.
Reg voor my ouma se huis het ’n reuse palmboom gestaan en ons het daar op die gras onder die palmboom rondgespeel toe ’n blokkie ys my meteens tref. “Haai, wie gooi my met ys?”, wou ek boos weet en toe val die volgende blokkie ys. Maar wag so ’n bietjie, dit was nie ys nie. Die volgende oomblik het ’n dreuning soos ’n trop migrerende blouwildebeeste aangekom. ’n Vernietigende haelstorm was oppad. Almal wat Brits ken sal weet hoe berug die plek is vir haelstorms.
My ma het benoud geskree dat ons in die huis in moet kom. Die motors was buitekant op die gras geparkeer. Ouma Thys en Oom Byl het paniekerig uitgehardloop, erdeskottels oor hulle koppe, en met komberse die motors toegegooi. My oom se Pers Variant stasiewa was immers splinternuut. My pa het gelate staan en kyk na die pandemonium. Daar is min dinge wat sy rustige aard kan versteur, Oukei, ek gee toe, sy kar was ook al ’n hele paar jaar oud.
En toe bars alle hel los. Binnekant het ons platneus teen die ruit met opgehoue asems gekyk na die verwoesting wat in een wit stroom aarde toe geplof het. Binne minute was die grasperk spier spierwit. As ek sê haelwit, klink dit dalk of ek sarkasties is. Nog steeds het die hael in een stroom na onder geval. Glo my of nie, die haelkorrels wat daardie middag op De Kroon neergestort het, was gemiddeld die grootte van ’n krieketbal.
Nodeloos om te sê, die komberse het weinig bedekking vir die motors gebied. Die voorruite was fyn en flenters. Voor die sitplekke op die vloer van die motor het van die groot wit haelballe gelê. Dit was immers nie haelkorrels nie.
Van Ouma Thys se tuin het nie veel oorgebly nie, daar was nêrens ’n boom se tak wat blare aangehad het om ons kersversierings aan te drapeer nie. Tog was ons verdriet maar gering gemeet aan die swart mamma wat iewers in die ooptes was toe die haelstorm losgebars het. Haar tweejarige wat veilig op haar rug vasgemaak was, is juis daar op die plek waar hy die heel veiligste moes wees, doodgeslaan.
My oumagrootjie was die dag daar om die haelstorm gade te slaan. Sy was toe so by die tagtigjaar oud. “In my leeftyd het ek so iets nog nooit so iets gesien nie, ek het gedink die oordeelsdag het aangebreek,” het sy verbouereerd gesê tussen die trane wat gevloei het.
Agterna het ons na buite gegaan en gesoek vir die grootste haelballe om in die vrieskas te sit. Niemand sou ons anders geglo het oor die grootte van die haelkorrels nie! My pa het ywerig foto’s geneem van die vernietiging en van sy wit Variant se verwoeste voorruit.
Vyfendertig jaar later raak ek nog steeds paniekerig wanneer dit begin hael. Angstig hou ek die grootte van die korrels dop. Eers wanneer ek sien dit is kleiner as ’n albaster, kry ek dit reg om te ontspan. Ek het nog nooit weer so iets beleef nie.
Daardie aand was die uitdeel van die geskenke, sonder ’n vrolike Kersboom, taamlik gedemp. Maar dit was nie al wat anders was nie.
Deel van elke jaar se ritueel was ons vertrek na Scottburgh, die aand van die 25ste, vir ons jaarlikse seevakansie. Hierdie keer sou ons eers moes wag tot die dag na Welwillendheidsdag om ons Variant se voorruit te vervang.
Ons was eintlik te klein om te dink aan die skade wat almal gely het. Van baie oeste het daar min oorgebly. Diere is doodgeslaan, dakke het ineengestort. Vir ons was dit bloot ’n opwindende gebeurtenis wat van daardie Kersfees iets besonders gemaak het. Iets anders as elke jaar se patroon.
En nou, baie jare later, noudat ek ook eerstehands met die pyn van verlies en dood kennis gemaak het, dink ek weer aan die swart mamma wat daardie middag paniekerig probeer vlug het. Sou sy, bo die gedreun van die vernietigende haelstorm, die sang van ʼn engelekoor gehoor het?

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Connecting to %s


Follow

Get every new post delivered to your Inbox.