Los ons renosters uit!

Ek het onlang die voorreg gehad om, aan ʼn renoster in ʼn wildtuin in Swaziland te raak. Dit was weliswaar oor ʼn elektriese heining, maar steeds ʼn besonderse voorreg. Die logge dame is al ʼn paar jaar oud, maar sy is met ʼn bottel hans grootgemaak en laat jou dus baie naby aan haar toe. Die vertroue waarmee sy jou ingenome aankyk wanneer jy haar skurwe vel so ʼn bietjie krap en liefkoos, maak natuurlik van haar ʼn baie sagte teiken. Renosters is al die afgelope paar jaar die teiken van gewetenlose misdadigers wat nie vir ʼn oomblik sal huiwer om hulle dood te maak, die horing af te saag, en dan weer te verdwyn nie. Deesdae is die aanslag teen die diere wat miljoene jare oud is, feller as ooit. Sedert 1970 is 90 persent van die wêreld se renosterbevolking doodgemaak deur sy enigste natuurlike vyand: die mens. Die klomp in Swaziland het natuurlik ʼn veel groter kans op oorlewing want daar word wildstropery nie geduld nie en swaar gestraf.
Daar is tans planne in plek hier plaaslik om hierdie misdadigers aan die pen te laat ry. Almal het saam gejuig toe ʼn Viëtnamese boef, wat met renosterhoring in sy bagasie op die OR Tambo lughawe betrap is, vroeër vanjaar tien jaar lank tronk toe gestuur is. Ongelukkig het die stropers wat onlangs gevonnis is veel ligter daarvan afgekom. Dit het tyd geword dat ons ons stemme moet dik maak sodat die owerhede toenemend die optrede versterk en geen een van die boewe ʼn kans gee om los te kom nie. Dit bly diere wat hulleself nie kan verdedig teen gewere, verdoofpyle en kettingsae nie. Stomme diere, soos my Ouma altyd gesê het. Die gruwelike waarheid wat ons in die oë moet kyk, en waarvoor niemand meer hulle oë durf sluit nie, is dat daar net in hierdie jaar alleen, in Suid-Afrika, aan die einde van Augustus, meer as 230 renosters onwettig doodgemaak en gruwelik vermink is. Dis meer as een renoster elke tweede dag.
En terwyl ek my al hoe meer in die lotgevalle van die renosters ingrawe, het die storie van ʼn renosterkoei, my diep geraak. Omdat sy nie ʼn naam het nie, doop ek haar toe onverwyld Tsholofelo. Eerstens het ek die gruwelike foto’s gesien wat vertel het van die onmenslike, barbaarse wyse waarop nie net haar horing nie, maar ʼn deel van haar skedel met ʼn treksaag afgesny is. Tsholofelo is vir dood in die veld agtergelaat, maar wonder bo wonder het hierdie renosterkoei besluit sy sal nie gaan lê nie. Sy sal nie doodgaan nie. Daarom verdien sy inderdaad die naam Tsholofelo, wat die Tswana woord vir hoop is.
Maar wag, ek stel vir Johan Geldenhuys aan die woord. Hy is die bestuurder van die Tugela Private Game Reserve waar die afgryslike verhaal hom afgespeel het.
“Die Tugela Private Game Reserve is geleë tussen Ladismith en Colenso. Op 25 Junie vanjaar het ons ’n groep kommersiële jagters op die plaas gehad om te jag. Hulle het ons geradio om te hoor of ons enige stappe geneem het om ons renosters te onthoring want daar is ʼn renosterkoei sonder ʼn horing in die veld. Ons het egter nog nie sover gegaan om die inisiatief te neem om dit te doen nie. Toe ons nader aan die dier kom het ons gesien haar hele horing, neusholte saam met ʼn deel van haar skedel, was weg. Sy het asem gehaal deur die gate in haar skedel waar die neusholte moet inpas. Van haar vier weke oue kalfie, was daar geen teken nie. Ons het dadelik begin soek na die kalfie.
Daarna het ons die veearts gekry om die ma te verdoof sodat haar wonde behandel kan word. Binne ʼn paar minute moes ons ʼn belangrike besluit neem. Moes ons eerder die koei laat uitsit, of moes ons haar nog ʼn kans op lewe gee. Op daardie tydstip het sy reeds die eerste paar dae na die slagting oorleef. Die veearts wat haar behandel het, kon sien dat die wonde tussen vyf en sewe dae oud was. Sy het ook die oordosis verdowingsmiddel wat in haar was, oorleef. Dit was duidelik dat hierdie koei van plan was om aan te gaan, en ons het haar die kans gegee.
Ongelukkig kon ons die kalfie eers die volgende Dinsdag opspoor maar sy was reeds dood. Die kalfie was totaal gedehidreer. Ons het haar sowat twee en ʼn halwe kilo weg van waar die ma geboorte gegee het, opgespoor. Die ma se beserings was van so aard dat sy nie meer kon ruik of met die kalfie kommunikeer nie, en die kleintjie moes van haar af weggedwaal het.
Onder die omstandighede gaan dit goed met die koei. Sy is tussen ander renosters waar sy tans veilig voel. Sy het nie gewig verloor nie, en haar kondisie is goed. Haar kans op oorlewing is veel meer as 50 persent. Ek skat dit so 80 persent.
Die koei is definitief met ʼn verdowingspyl uit ʼn helikopter geskiet. Die taakspan wat die diefstal ondersoek het, het na verskillende moontlikhede gekyk. Daar was die naweek van die 16e, 17e en 18e Junie heelwat helikopter aktiwiteite in die lug bokant die plaas. Ek was nie daardie naweek op die plaas nie, maar van ons bure het die helikopter opgemerk. Oor ons plaas loop daar ’n Sasol pyplyn en Eskom kragdrade, so tjopper aktiwiteite is normaal, want die helikopters patrolleer die lyne. Gewoonlik neem ʼn mens nie notisie daarvan nie en die horingdiewe het waarskynlik op daardie manier alles haarfyn beplan, sonder dat enigeen daarop ag geslaan het. Daar is geen ander manier hoe hulle op die plaas kon inkom nie. Ons grensdrade word twee maal per dag gepatrolleer, en daar was nêrens waar die drade stukkend was of waar die wilddiewe kon inkom nie. Dit was dus beslis, soos in baie ander gevalle, ʼn aanval uit ʼn helikopter uit.
Wat waarskynlik tot haar redding gelei het, was dat sy die pyl verloor het terwyl sy gehardloop het van waar sy gelê het. Toe ons haar gekry het, was sy reeds saam met ander renosters en sy het saam met ʼn bul geloop. Gewoonlik gee ʼn renosterkoei geboorte en dan hou sy die kalf alleen totdat hy ongeveer vyf maande oud is. Sy was dus weg van die ander renosters om haar kalfie in afsondering te hou. Dit het haar dus ʼn baie maklike teiken gemaak. Die wildstropers het haar liggaam met doringtakke toegepak sodat sy nie sigbaar kon wees nie. Sy was bloot 350 meter van ʼn pad af. Dit het hulle die kans gegee om weg te kom. Sy het gelukkig op haar borsbeen gaan lê. As sy op haar sy gaan lê het, sou sy dit nie gemaak het nie, want dan sou sy haar doodgebloei het.
Dis nogal vreemd dat hulle haar nie doodgeskiet het nie want gewoonlik is die renosterdiewe se modus operandi om die dier met ʼn pyl te verdoof, af te sak en die horing af te saag, en dan word die dier doodgeskiet. Mens weet nie wat die omstandighede hier was en of hulle gou moes vlug nie.
Ons het die koei, wat gewys het sy het die motivering en die dryfkrag om te oorleef, nog ʼn kans gegee. Daar is nog oop wonde, maar dit sal later toegroei met vel. ’n Deel van haar skedel is weg, en sy sal seker vir altyd deur die twee gaatjies asemhaal. Waarskynlik sal sy nooit weer ʼn horing groei nie. Heel moontlik gaan sy ook nooit weer kan ruik nie, maar sy is ʼn jong sterk dier. Hierdie was maar haar tweede kalf, en dalk sal sy vorentoe weer ʼn kalf in die lewe kan bring.
Ons het die pyl wat ons gekry het weggestuur na die laboratorium by die Pretoriase dieretuin sodat daar ʼn chemiese analise gemaak kan word van die tipe verdowingsmiddel wat gebruik is. Daar sal ook gekyk word na DNA en moontlike vingerafdrukke. Gewoonlik moet daar ʼn ander verdowingsmiddel toegedien word wat die effek van die eerste een neutraliseer. Dit is dus nou nog vir ons onduidelik hoe sy dit reggekry het om op te staan.
Sover ons weet is sy die enigste een wat so ’n verskriklike gruweldaad oorleef het. Dis natuurlik vir ons geweldig jammer dat sy die kalfie verloor het. Dit sou so ʼn goeie verhaal gewees het as sy met haar kalfie verenig kon word. Tog is ons dankbaar dat sy wel tot dusver gewys het sy wil oorleef. Dit gee ons hoop!”
Al het die storie op ʼn manier ʼn positiewe einde, maak dit nie die gruweldaad minder ernstig nie. Ek kan nie ophou wonder wat in iemand se kop aangaan wat ʼn elektriese saag teen ʼn pragtige skepping van God druk en met een venynige, monsteragtige daad, haar vir ewig skend nie. En dit alles vir geld! Dink net aan haar pyn en verwarring. Haar angs om haar kalfie te soek, maar nie te kry nie. Die manier hoe sy rondgestrompel het in die veld, deurmekaar, getraumatiseerd en in intense pyn.
My bede is dat God intens oor Tsholofelo sal waak. Mag sy gesond word en nog ʼn hele klomp kalfies in die lewe bring!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Connecting to %s


Follow

Get every new post delivered to your Inbox.