
“Ons moet ons koppe laat lees,” sê vriendin Elsabe nou die oggend kwart oor vier vir my. Bo ons het die oggendster blink gehang. Van ’n opkomende son was daar nog geen teken nie. Voor ons in die donker het die twee perde hulle kragvoer uit plastiekemmers geëet. Die ander perde wat saam met hulle in die kampie was, het hoopvol nader gestaan, maar ek en Elsabe het seker gemaak niemand anders vat Dean en Kudu se kos af nie.
“Dit vat definitief ’n spesiale tipe mens om dit te doen,” het sy later gesug toe die perde klaar geëet het, en ons koers kies skuur toe waar ’n koppie Boeretroos gewag het.
Maar wag, laat ek voor begin. Ek het besluit om vanjaar aan te sluit by ’n groepie perderuiters wat die laaste paar dae van Desember ‘n perderit al om die Vaaldam onderneem. Vanjaar was dit die tweede keer wat die unieke rit plaasgevind het en dit sal beslis nie die laaste keer wees nie. Die meeste ruiters wat hieraan deelneem, is ervare ruiters wat ook uithouritte soos die uitmergelende Fauresmith aanpak. Vanweë my gebrek aan ervaring, en genoeg ure in die saal, het ek besluit om net die eerste dag saam te ry.
Sondagoggend 26 Desember het ons almal by die huis van Willie Watermeyer bymekaar gekom. So teen tienuur het 24 ruiters vandaar vertrek. Die adrenalien het lekker gepomp toe ons met die brug oor die R59 snelweg gery het en ’n paar motoriste op die snelweg vrolik getoeter het. Ons is deur Daleside en so op die soom van die Suikerbosrant verby Kareekloof waar ons uiteindelik langs die Meyerton/Heidelbergpad gestop het vir ’n laatoggendete. Ravin se hamburgers het heerlik afgegaan, en almal was nog vars en opgewonde oor die res van die rit wat voorgelê het.
Die tweede been het baie meer stamina vereis. Ou Dean, my liefling, is ook nie meer vandag se kind nie. Te oordeel aan sy tande is hy al meer as 18 jaar oud. Ek en Dean moes lang ente alleen ry nadat die groepie saam met wie ek gery het, onttrek het. Dit was verskriklik warm en my perd het by tye erg gestres as hy geen ander perd sien nie. Soms het ek gewonder of ons nog op die regte pad was, maar gelukkig het ons weer ander ruiters raakgeloop by die waterpunt. Toe ons uiteindelik die plaashuis in die verte sien waar ons die aand sou oornag, was ek vreeslik verlig. Ek was werklik dankbaar om deur die plaashek te ry, en van die saal af te gly. My verbasing was groot toe ek uitvind ek en Dean het sewende by die bestemming aangekom. Veertig kilometer was agter die rug.
Ons het die aand almal saam in die groot skuur geslaap. Ek was so moeg dat ek daardie nag nie eers gehoor het hoe al die honde op die plaas behoorlik soos wolwe gehuil het nadat ‘n jakkals in die omgewing die spul op hol gehad het nie. Die volgende oggend kon ek maar net lag toe almal van die kabaal vertel het.
Vieruur Maandagoggend het Willie soos ‘n wafferse hoenderhaan gekraai. Dit was tyd om op te staan. Die perde moes gevoer word en ons wou graag voor ses uur vertrek. Dit was toe dat ek en Elsabe die interessante gesprek gehad het. Al was ek van plan om net die eerste dag te ry, kon ek nie die versoeking weerstaan om die Maandagoggend weer saam te ry nie. Daar is immers niks lekkerder as om vroegoggend op ‘n perd se rug te wees nie. Dis dan wat jy kans kry om die doudruppels soos diamante op die grashalms te sien glinster.
Aanvanklik sou ek net tot by die eerste waterpunt, op 22 kilometer ry, maar daar aangekom, het die klomp my gou oortuig dat ek maklik die laaste 8 kilometer van die oggendskof ook sou kon maak. Ek het dit gedoen, al was my lyf, en sitvlak, redelik seer. Ek was ongelooflik trots toe ek en Dean uiteindelik na 70 kilometer halt roep. Seer, styf, blikners, maar met ‘n hart wat reusagtig groot geswel het: Ek het dit reg gekry! Daar was boonop genoeg getuies wat dit kon bevestig. My twee meisiekinders was hoeka bra skepties of ek hierdie toets sou slaag. Volgende jaar sal ek sorg dat ek saalfiks is. Dan gaan ek beslis langer saam met die wonderlike groepie perdemense kuier.
Sondag se groep van 24 het nou verminder na ‘n groepie van 15 wat waarskynlik enduit sal ry. ‘n Mens kan natuurlik glad nie voorspel wat vorentoe gaan gebeur nie. Perde kan seer kry, ongelukke gebeur maar aan energie en entoesiasme ontbreek die klompie glad nie.
Toe ek en De Wet Maandagaand vir oulaas saam met die groep gaan braai het, was ek skoon hartseer om totsiens te sê en te weet ek gaan nie Donderdag die voorreg hê om saam met hulle klaar te maak nie.
Dit was voorwaar ‘n besondere groep mense. Carl, die blinde ruiter, wat al een Fauresmithrit voltooi het, het saam met sy perd Billy weer vir groot pret gesorg. Sodra Carl ‘n ruiter wil verbysteek, druk hy bloot die fietsklokkie wat voor op sy saal vasgemaak is. Dis nou ‘n goeie voorbeeld waar perd en ruiter mekaar ten volle vertrou.
Kobus, ’n baie ervare uithouritruiter, het nog vroeër in Desember chemoterapie ontvang maar dit het hom nie gestuit om saam te ry nie. “Ek sal bly ry totdat ek nie meer kan opstaan nie,” het hy moedig vertel terwyl ons Maandagoggend daar oor die koppies naby Klipkraal verby gery het. Wat ’n merkwaardige voorbeeld van iemand wat weier om te gaan lê. Hy het lankal geleer dat perdry wonderlike terapie is.
So ’n rit is nie gemaak vir sissies nie. Daar is geen gemak en gerief nie. Tog is daar soveel vreugde en kameraadskap om op te maak vir alles wat jy ontbeer. Jy moet tevrede wees om by ’n koue kraan jou gesit te was en tande te borsel. Gelukkig het party slaapplekke wel ‘n stort en dan waardeer jy dit natuurlik soveel meer. Vir selfsug is daar nie plek nie. Jou perd se behoeftes word voorop gestel en voor jy ’n beker koffie en beskuit geniet, moet jy seker maak die perd het geëet. Ja, al moet jy vieruur opstaan.
Hopelik sal ek in 2011 die voorreg hê om lang ure op Dean se rug deur te bring. Wanneer ek volgende keer om ‘n kampvuur sit en kuier, sal ek outomaties terugdink aan die aand toe ons almal tam en lyfseer van die dag se rit, lekker saam met Dozi kon sing: O, Ryperd, ons ry die pad tesame… Nie almal wat gewoonlik so lustig saam met Dozi sing weet wat dit regtig beteken nie.
Ek salueer elkeen van die manne en vroue wat tot die einde gaan vasbyt! Wat ‘n voorreg om ’n deeltjie daarvan te kon meemaak. Daar IS iets aan die buitekant van ’n perd wat goed is vir die binnekant van ’n mens…