Ons groet ‘n radiolegende

Die amptelike Afrikaanse radiolegende

Een van die merkwaardigste en genotvolle onderhoude wat ek in my loopbaan gevoer het, was met Fanus Rautenbach. Ek het in 2008 hierdie voorreg gehad en ek het hierdie artikel uit die laai gaan haal en weer afgestof om op hierdie manier hulde aan Grootman, soos sy vriend Piet Coetzer na hom verwys, te bring. Die artikel het oorspronklik in Vrouekeur verskyn.

Wanneer die “Penniefluitjiekwêla” begin speel, roep dit onmiddellik my kinderdae op. Dit is die wysie waarmee ek smorens wakker geword het. Die radio was maar altyd aan op die Afrikaanse diens. Dan het Fanus Rautenbach die hele volk gegroet en saamgenooi om flink uit die vere te spring en saam met hom en sy Flinkveria kabinet die dag aan te pak.
Daar was altyd ’n grappie of twee, ’n slim speel met woorde, ’n limeriek wat jou laat giggel het. Dit was die wonderlike tye voordat ontbyttelevisie gekom het en waarin geweld en misdaad en politiek saam met ontbytpap aan ons opgedis is. Maar na dertien jaar het Fanus se program, Flink uit die vere, in 1974 van die eter verdwyn en is dit vervang met die oggendjoernaalprogram Monitor. ’n Swaargewig program waarin verslag gedoen word oor die sake van die dag. Tussen die korrupsie, bedrog, plaasmoorde, padwoede, stygende brandstofprys en al die ander treurmares het daar min oorgebly om oor te lag.
Wanneer Fanus Rautenbach vir my sy woonstel se deur oopmaak, voel dit beslis nie soos ’n vreemdeling wat voor my staan nie. Ek ken hom mos al jare lank, al sien hy my vandag vir die eerste keer. So in die loop na die hysbak keer van die aftree-oord se personeel Fanus voor. “Ons het meneer Saterdag oor die radio gehoor,” gesels hulle opgewonde.
Vinnig vertel Fanus hulle dan die doel van my besoek. “Sy is ’n joernalis wat ’n artikel oor my gaan skryf vir die Vrouekeur.” Nog meer rede vir opgewondenheid.
Ons eet ’n heerlike middagete by die Constantia Buiteklub. Ook hier is Fanus ‘n geliefkoosde gas en hy gesels met al die kelners en die bestuurder wat na sy welstand verneem
Vir byna twee ure sit ek en Fanus daar en kuier. Vertel hy my die pad wat sy loopbaan gevolg het. Ja, glo dit of nie, daar is selfs ‘n konneksie met De la Rey. Die laerskool waar Fanus begin skoolhou het, is die laerskool De la Rey in Westdene, Johannesburg. Dit was dieselfde skool waar hy sy laerskooljare deurgebring het. Van daar is Fanus na Hoërskool Groblersdal gesekondeer. Daar het hy die volgende vyf maande warm gekry in die eerste plek, en skoolgehou, in die tweede plek.
Op ’n Sondagmiddag het hy in die koel gang van die huis gelê toe hy in die koerant ‘n advertensie gesien het vir ‘n pos as draaiboekskrywer by Karfo. Op daardie tydstip het hy al ’n paar tydskrifverhale gepubliseer onder die naam Fanus Bach en het hy ook Huisgenoot se kortverhale wedstryd gewen.
“Ek doen toe aansoek vir die pos en sluit die storie in. Die eerste opdrag wat ek moes uitvoer was ’n teks vir ’n dokumentêre film, Lente in Pretoria. Uiteindelik het hulle iemand gesoek om die teks voor te lees op die film. Ek het aangebied om dit te doen, maar hulle wou nie hê ek moet nie. Dit moes kwansuis ‘n professionele persoon wees. Toe tel ek die telefoon op, bel vir Jan Pohl by die SAUK en vra hom hoe word ek professioneel. Hy wou toe weet wie praat en toe hy uitvind ek is die skrywer Fanus Bach, het hy my dadelik genooi om ’n stemtoets te doen. Dit was gelukkig nie te moeilik nie, ek het selfs geweet wie Mozart en Beethoven was,” skerts Fanus.
Nodeloos om te sê, Fanus het die pos by die SAUK gekry. Hy kan met reg spog dat hy verantwoordelik was vir die heel eerste inbelprogram op die Afrikaanse radiodiens. Hy het die versoekprogram, In almal se kraal wat op ’n Woensdagaand uitgesaai is, by Douwlina Grobler oorgeneem, Douwlina het later sy vrou word.
Fanus was glad nie lus om al die honderde kaartjies deur te werk om te sien wie versoek watter plaat nie. Hy sê toe vir die luisteraars watter plate hy gereed het om te speel. Toe verskaf hy die nommer van die ateljee en nooi die mense uit om hulle versoek sommer direk aan hom deur te gee.
Dit het soos ‘n bom gewerk en beslis aanleiding gegee tot sy vroegoggendprogram Flink uit die vere waarvan die heel eerste uitsending op 16 Oktober 1961 plaasgevind het.
Fanus vertel hoe hy elke dag Douwlina Grobler dop gehou het waar sy sit en tee drink het in die ateljee. Jy kon haar altyd deur ’n ring trek, van haar hoëhakskoene tot haar beret wat sy graag gedra het. Sy het so fyntjies tee gedrink, pinkie in die lug, onthou hy. “Sy gee my toe die pinkie, en toe gryp ek die hele hand,” korswel Fanus verder. Vroutjie Douwtjie, soos Fanus altyd liefdevol na haar verwys het, is in 2002 aan Alzheimer se siekte dood.
Maar terug by Flink uit die Vere. Iets anders waarop Fanus kan roem is die heerlike fees wat uit sy program gespruit het. Die luisteraars het van heinde en verre kom uitkamp daar by Bronkhorstbaai en die fees het bekend gestaan as Flinkveria. Dit was heerlike dae. Die digter GA Watermeyer het joernaal gehou van die hele fees en Fanus het seker gemaak Watermeyer word geborg vir hierdie skryfwerk.
Fanus is taamlik uitgesproke oor die SAUK se besluit destyds om sy program, ’n program wat deurspek was met humor, kwinkslae en woordspelings van die lug te haal en met aktualiteit te vervang “In plaas daarvan om juis ‘n teenwig vir moord en doodslag te vind, vertel hulle toe met die joernaalprogram dieselfde negatiewe stories en maak die mense morbied. Dit was ‘n fout. Ek wil nie sê hulle moes my behou het nie maar ek dink die volk sou veel meer gebaat het by ’n program wat humoristies van aard is, maak nie saak wie die aanbieder was nie. Die volk is honger vir humor. Ek glo ‘n mens moet elke dag ten minste 15 keer lag. Ek het baie meer as dit gelag, in my program het humor regeer.”
Moet tog net nie na Fanus as ’n grapjas verwys nie, dit is hy nie. Hy is wel ’n humoris wat baie fyn kan spot en heerlik met woorde speel om dan ’n baie snaakse alternatief op die gewone te kry. Vandag nog is hy steeds hard besig om nuutskeppings te maak vir allerlei Engelse woorde wat indringers is. Daar is oorbel vir selfoon, vonkpos vir e-pos en ysterkoei vir die rekenaar. Sy nuwe CD met grappies op noem hy sommer sy lagskyf.
In sy loopbaan is Fanus so ’n paar keer gesensor vir ’n stoute grappie. Hy het eenmaal vir sy luisteraars gesê “Ek het ‘n wonderlike buurman; hy sal sy broek vir my uittrek.” Toe speel hy musiek en net daarna sê hy toe:…”en my buurvrou ook!”
Maar Fanus ontken dat hy ooit gewaagd was of lelik gepraat het. Hy het altyd vir een mens uitgesaai, en dit was vir sy ma. Die raad, om net met een persoon op ’n slag te praat, het Jan Pohl hom gegee. So het hy dit altyddeur reggekry om mense by sy uitsendings te betrek want almal het altyd gevoel Fanus saai vir hulle persoonlik uit
Fanus gesels ook graag oor sy kinders en kleinkinders. Fanus het twee seuns, Frans wat met Elmari getroud is en Gerrit, wat getroud was met Annemarie. Soos enige trotse oupa vertel hy van elkeen in die besonder; daar is Anneke, Stefan, Daniël, Michelle en Nandi. Die stories wat hy geskryf het en die 22 boeke wat uit sy pen verskyn het, is nog iets waaroor hy graag praat. Hy is tans besig om te werk aan sy memoires. “Sebastian Kloon sit op die stoep en lieg. En lag. ’n Anderster ware verhaal oor Fanus Rautenbach.” In die boek kloon hy homself en dan word hy Sebastian Kloon.
Die man het ‘n plan kom jy dan agter. Alles wat te riskant is om oor sy eie lewe te vertel, gebeur mos met Sebastian, en niemand kan ‘n vinger wys nie. Behalwe hierdie avonture skryf hy ook ’n gereelde rubriek vir LitNet, Umfaanus.
As jy Fanus se naam noem, dink ’n mens onwillekeurig aan karakters soos Staal Burger en Willem Coesee en die altyd teenwoordige doedie wat hy geskep het, die teks van Nuustak wat hy help skryf het, Liewe Oom Draadloos wat ook sy pennevrug is. Almal weet egter nie Fanus het ook pragtige lirieke vir sowat 15 liedjies geskryf nie. Hy het die vertaling van Jacques Brel se Ne me quitte pas in Afrikaans gedoen as Moenie weggaan nie. Hierdie lied is deur Laurika Rauch opgeneem, en dit het aan Fanus roem verwerf by die koningin van Nederland nadat dit by ’n geleentheid vir Madiba gespeel is. Randall Wicomb se Kopersmit en Leon Schuster se Water op die knieë is ook skeppings van Fanus Rautenbach.
Wat is die geheim van sy sukses, wil ek weet? Hy het self al gesê daar was weinig finansiële beloning vir sy loopbaan. Maar dan kom die antwoord, seker en beslis: “Die sukses wat ek as uitsaaier gehad het lê in die geheim dat ek dit altyd beskou het as ons program, nie myne alleen nie. Die luisteraars het net soveel inspraak daarin gehad. Ek het nie toegelaat dat die base inmeng met dit waarna die mense wil luister nie. Dit was ook altyd ‘n tweerigtinggesprek.
“Op ’n stadium het Springbokradio my ’n pos aangebied waarin ek tien keer meer sou verdien as by die Afrikaanse diens. Ek wou dit nie aanvaar nie want ek wou by my mense gebly het.
“Op die ou end lê die tevredenheid in die wete die stuk werk wat ek gedoen het, het ek goed gedoen. En natuurlik moet jy dit wat jy doen geniet. Ek het elke oomblik daarvan geniet, en altyd gelag!”
Te vinnig is die kuier om en neem ek Fanus terug na sy woonplek in Observatory Kaapstad.
Wanneer ek hom aflaai en saam met hom terugstap na die gebou waarin hy woon sê hy: “Jy weet, ek sal nou vir jou sê soos wat ek vir die skoonheidskoningin gesê het met wie ek ‘n onderhoud gevoer het. ‘Ons het nou genoeg oor my gepraat, kom ons praat ‘n slag oor jou. Nou sê my, wat dink jy van my?’ Hy lag lekker, uit sy maag uit, en ek saam met hom. Met Fanus Rautenbach in jou geselskap, hoe kan jy anders as om nog ‘n slag te lag?

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Connecting to %s


Follow

Get every new post delivered to your Inbox.