God se optelsom

In die aard van my loopbaan het ek al stories by mense gehoor waaroor ek soms gewonder het of dit regtig waar kan wees. By meer as een geleentheid het iemand my al vertel hoe God op ’n merkwaardige manier noukeurig voorsien het soos wat Hy moes. Presies tot op die naaste rand en sent. In my eie lewe kon ek nog altyd getuig het van ’n God van genade wat werklik weet wanneer die nood die grootste is, maar hierdie Saterdag was ’n geleentheid wat my opnuut laat besef het hoe perfek God se optelsomme werk.
Die afgelope jaar of twee het ek deur vriendin Elsabe bevriend geraak met Kobus en Sonja Smit, bedrewe uithouritruiters. Die ding wat ons natuurlik dadelik goeie vriende gemaak het, is ons liefde vir perde. Toe ek in Desember saam met die klomp gery het, was Kobus een van die ruiters wat uiteindelik ook die volle tog om die Vaaldam voltooi het.
Kobus is sowat elf jaar gelede met ’n tipe limfklierkanker gediagnoseer of te wel Nie-Hodgkinsindroom. Ten spyte van dokters se negatiewe voorspellings en vooruitskattings, het hy nog altyd dapper teen die siekte terugbaklei. En elke keer net as hy dink nou het hy kanker finaal gewen, keer dit weer terug.
Aan die einde van 2010 het Kobus weer ’n reeks chemoterapiebehandelings gekry. Al het dit hom bitter siek gemaak, het dit hom nie daarvan weerhou om die 327 kilo’s om die dam te perd af te lê net ’n week of drie na die laaste behandeling nie. Die Dinsdagoggend van die Omdiedamrit, net voordat ek opgehou ry het, het ek en Kobus ’n ver ent langs mekaar gery. “Ek sal eers ophou perdry die dag as ek nie meer kan loop nie,” het die dapper man toe vir my gesê.
Kobus se kanker het hom die afgelope paar jaar finansieel nogal ’n groot knou gegee aangesien die mediese fonds nie vir al die uitgawes kon betaal nie. Sy laaste beenmurgoorplanting het nagenoeg 1,6 miljoen rand gekos en Kobus was self verantwoordelik vir R400 000. Maar ten spyte van moeilike omstandighede het hy nooit opgehou om uit te reik na ander ruiters wat sy hulp nodig gehad het nie, en was hy nog altyd ’n voorbeeld van iemand wat ander se belange voor sy eie gestel het.
Op die oomblik is Kobus se beenmurg te kwaai onder druk om verdere chemoterapie moontlik te maak en bestraling is dus nodig. Die probleem is egter dat die PET-skandering wat gedoen moet word om te sien presies waar bestraal moet word, R15000 kos. R15000 wat Kobus tans nie het nie. Gelukkig het die hospitaal ingestem dat Kobus net R5000 vir die gebruik van die toerusting moet betaal, juis omdat hy al soveel kere in die verlede daar was vir behandeling.
Vriendin Elsabe en Kobus se vrou Sonja het egter besluit dit is te belangrik om dit so gou as moontik te doen en Kobus moet die skandering ondergaan. Daar sal ’n plan gemaak moet word om die R5000 in die hande te kry. Die twee het koppe bymekaar gesit en besluit om ’n pretrit te reel. Die perderit is vir Saterdag 12 Februarie georganiseer. Elkeen van die ruiters wat die tog meemaak sou ’n R100 inskrywingsfooi moes betaal. Coenie Henning van Sure Focus, ’n skietbaan buite Meyerton het sy geriewe beskikbaar gestel en elkeen wat ry kon ’n kampie vir die perd daar huur. Na afloop van die rit gaan daar eers ’n bietjie saamgekuier word, voordat elkeen weer huiswaarts keer, te perd of met die perd in die perdesleepwa. Perdemense hou sommer baie van kuier, weet ek nou al uit ervaring.
Sonja het intussen ’n geloofsprong geneem en besluit om die afspraak vir die skandering te maak. Op Saterdagoggend die 12e is ons uiteindelik 37 perderuiters wat net na 9 uur vertrek. Effektief beteken dit dus ’n bedrag van R3700. Vroeg reeds is dit bloedig warm maar ons is dankbaar dat die reën wat nou al vir weke lank dit besonder moeilik maak om perd te ry, vir eers die wyk geneem het. Die hardgebakte modder is die enigste getuienis van vroeëre stortreën.
Ons het in een groep gery tot by Koolfontein, en daar het ons weer in twee groepe opgedeel. Een groep met die derduiwels wat nie huiwer om volspoed op die perde te galop nie, en ’n groep met die meer versigtige of onervare ruiters en perde. Dis nou mense soos ek wat altyd in beheer wil wees wanneer hulle op die perd se rug sit. ’n Mens moet iewers in jou lewe voel jy is in beheer! 
Uiteindelik het ons sonder enige ernstige voorvalle ( dis nou afgesien van die een wilde perdjie wat Petronell en Karin en my arme Dean geskop het) die rit voltooi en almal saam by die boma bymekaar gekom vir die afhandeling van al die formaliteite. Aan elke ruiter wat die rit meegemaak het is daar ’n sertifikaat, met ’n pragtige foto van Kobus op sy perd, uitgedeel. Daar is ook twee gelukspakkies uitgeloot. Karin het soos altyd dit keurig bymekaar gesit en ons almal se monde het gewater: of vir die eetgoed, of vir die skoonheidsprodukte. Kan jy nou meer! Les en Moira wen sowaar elkeen ‘n gelukspakkie. Nie aldag wat ’n man en vrou dit regkry nie.
Toe bly die laaste item oor om die fondse mee te versterk. Phil Medlock het ’n spesiale bottel Cabarnet Sauvignon wat Dok Danie Craven self geteken het geskenk om opgeveil te word. Die veiling verloop flink en daar word gretig gebie. Uiteindelik word die koopprys op R700 toegeslaan. Claire Bothma is die trotse eienaar van die bottel wyn.
En toe is dit die oomblik waarop almal gewag het. Elsabe moet verslag doen oor die fondse wat die dag ingesamel is. Het ons daarin geslaag om R5000 bymekaar te kry?, wonder ons almal. Eerstens bedank sy vir Coenie wat uiteindelik die geld wat ingesamel is vir die gebruik van sy toerusting alles weer vir Kobus se fonds gegee het. Saam met die geskenkpakke se lootjies is die bedrag wat ingesamel is R4300. Al wat gekort het was R700 om by die beoogde bedrag van R5000 uit te kom, verduidelik Elsabe. En sowaar, daar is die bottel rooiwyn vir presies R700 verkoop!
Ek dink nie ek was die enigste een in die groep wie se oë vol trane geskiet het toe ons dit hoor nie. Hoe volmaak werk God se optelsomme nie!
Dit was ‘n heerlike dag in ’n goeie gees. Vir ‘n paar dae loop ons nog met so ’n effense spierpyn of twee net om ons daaraan te herinner dat ons Saterdag hard gewerk het. Diegene wat dink dit is net die perdjies wat werk, kom ry volgende keer saam. 26 kilometer teen ’n stywe pas in die bloedige Februarieson is nie grappies nie.
Kobus gaan hierdie week nog vir die skandering. Ons grootste bede is dat hy hierdie rondte rêrig die kanker bloedneus gaan slaan!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Connecting to %s


Follow

Get every new post delivered to your Inbox.