Ek het in Desember 2009 die voorreg gehad om ‘n persoonlike onderhoud met Lucas Maree te doen. Ek was op pad see toe, en Petronell het rustig in die kar gewag terwyl ek en Lucas onder die bome by Oliewenhuis gekuier het. Dit was ‘n reuse voorreg. Al is die opskrif van die artikel nou baie ironies, sê dit presies hoe hy die laaste ruk gelewe het. Wat ‘n wonderlike, sagmoedige reus. Lucas, ons gaan jou mis!
Hierdie artikel het in die rooi rose van Junie 2010 verskyn.
Lucas kies om te lewe
Alita Vorster
“Dis glad nie waar wat ’n Sondagkoerant onlangs geskryf het nie,” protesteer Lucas Maree. “Ek is nie bang vir vlieg nie. Dis vir val wat ek bang is!” Oor hierdie opmerking lag hy spontaan en vee die trane uit sy oë uit. Iets hier in die pragtige tuine van die Oliewenhuiskunsmuseum gee hom hooikoors, verduidelik hy gou die tranerigheid.
Die man met die kop vol woorde en wysies sit oorkant my by die Terrace koffiewinkel in die tuin van Bloemfontein se Oliewenhuiskunsmuseum. Onder die groot bome in die terrastuin kan ʼn mens maklik vergeet dat die kwik op hierdie Desemberoggend oppad is om by 35˚ C te gaan draai.
Lucas Maree was nog altyd vir my die heel beste voorbeeld van ʼn eie Afrikaanse sanger/liedjieskrywer waarvan die Amerikaners so baie het. Die woorde van sy liedjies steek vas in ʼn mens se kop. Twintig jaar nadat hy Ek sou kon doen met ʼn miljoen geskryf het, deel almal nog steeds hierdie versugting van hom as hulle probeer om die powere ekonomie te probeer besweer. Lucas vertel dat elke liedjie wat hy tot dusver geskryf het, outobiografies is. Eers as hy iets self beleef het, kan hy daaroor skryf, en dan maak hy op die manier sin uit ʼn gebeurtenis of situasie.
Baie Lucas Maree bewonderaars het ʼn sug van verligting geslaak toe daar in April 2009 uiteindelik weer ʼn CD van hom verskyn het met oorspronklike musiek op. Die CD het die gepaste titel, Lankverwag want daar het meer as vier jaar verloop tussen hierdie CD, en die vorige Lucas Maree CD.
“Die rede waarom daar niks verskyn het nie, was nogal ʼn beproewing gewees. My pa Jack het Alzheimer-siekte gekry en ek moes baie tyd met hom deurbring om na hom om te sien. Toe ek weer sien, was vier jaar verby. Maar ek is nie spyt oor die tyd wat ek met hom spandeer het nie. As ek dit nie gedoen het nie, sou ek met ʼn ander indruk van my pa die ewigheid ingegaan het. Ek het my eie pa nie geken nie want ek het grootgeword met die idee dat my pa ongevoelig is. Toe ek klein was, was my ma die een wat die slae uitgedeel het. Dan het my pa agter die deur gaan staan en lag. Ek het gedink hy hou daarvan as ek seer kry, maar ek het eers hier in sy laaste jare agtergekom hy het bloot gegiggel omdat hy onseker en ongemaklik gevoel het.
“Omdat ek altyd gevoel het my pa is afsydig, het ek nooit my geheime met hom gedeel nie. Ek het altyd na my ma toe gegaan. Vir drie jaar het ons glad nie met mekaar gepraat nie en net oor en weer boodskappe gestuur. Maar hier aan die einde het ek agtergekom baie van daardie dinge was goed wat binne in my verkeerd was. Ek moes dit regstel . Uiteindelik het ons baie dinge afgehandel en ek het vrede in myself gekry.”
Lucas vertel hy was nogal geskok om agter te kom al het hy hard probeer om nie soos sy pa te wees nie, het hy dit nie altyd reggekry nie.
“Ek het baie suksesvol in my pa verander. Terugskouend het ek gesien ek het ʼn streep van dieselfde foute waarvoor ek hom blameer het, met my eie kinders gemaak. Daarom was dit so belangrik dat ek myself moes uitsorteer. Hier aan die einde het hy vir my gesê: ‘Hene, ek is lief vir jou.’ Al was hy toe onder die indruk dat ek sy broer is, is ek so dankbaar hy kon dit uiteindelik sê.”
As Lucas oor sy drie dogters, Monica, Linda en Carla praat, blink sy oë opnuut. Vir hom is dit baie swaar dat Carla aan die begin van Januarie in Worcester afgelaai is. Sy gaan daar ʼn kursus in hotelbestuur doen. Die gedagte dat hy nie elke dag gaan weet hoe lyk haar hare, of hoe blink haar oë nie, is vir hom baie swaar om te verwerk. Gelukkig woon Monica nog by hom en Ilse, en Linda is ook net ʼn klipgooi van die huis af.
Oor Ilse, die vrou vir wie hy spesiaal die liries mooie Droomvrou geskryf het, sê
Lucas: “Ilse is die administrateur van die huis. Sy is die praktiese een wat sorg dat die vier dromers so nou en dan bietjie terugkom aarde toe. En dis ook reg so, ʼn mens moet weet waar die aarde is. As Ilse nie daar is nie, sal ek en die dogters net hoёr en hoёr opstyg totdat ons uiteindelik in die buitenste ruim rondswerf en ons sal glad nie meer onthou waar die praktiese goed is nie. Dis goed dat Ilse ons soms aan die praktiese dinge herinner en eintlik kry sy dit op ʼn verbasende manier reg, want daar is vier van ons, en daar is maar net een van haar.”
Die twee produkte van Lucas wat verlede jaar verskyn het, lê altwee na aan sy hart. Die CD Lankverwag is die heel eerste CD wat hy in sy eie ateljee by sy huis in Bloemfontein opgeneem het. Afgesien van sy eie nuutskeppings, is daar ook liedjies van Koos Kombuis, Koos du Plessis, Coenie de Villiers, Jan Pohl en ʼn vertaling van Duffy Sainte-Marie se Universal soldier op die CD. Lucas het spesiaal Andre Viljoen se liedjie, Klein Karoo opgeneem.
“Dit was my ma se gunsteling liedjie en omdat ek, terwyl my ma geleef het, so min van haar gunsteling liedjies vir haar gesing het, het ek besluit om dit op hierdie CD op te neem.”
Lucas se eerste DVD, Lucas Maree en vriende, het hy met die hulp van sy vriend Andre Calitz opgeneem. Hierdie DVD is besonder omdat dit die eerste DVD is wat in Suid-Afrika met die Blu-Ray High Definition tegniek verfilm is. Die beeldmateriaal is verstommend skerp.
“Ek is nie heeltemal seker of ek so gelukkig is met die gedagte dat almal selfs die fynste sweetdruppeltjies op hierdie geswete beplooide gesig van my moet sien nie, maar die beeld is ongelooflik.” skerts hy. “Jy kan selfs amper die riffeltjies op die kitaar se snare sien.”
Op hierdie DVD span ʼn hele klomp van Lucas se vriende saam om een van sy eiesoortige kuierkonserte te lewer. Mense soos Andre Swiegers, Coenie de Villiers, Mathys Roets om maar ʼn paar te noem.
Enigeen wat al ʼn lewendige vertoning van Lucas Maree bygewoon het, sal weet dit is werklik ʼn heerlike intieme kuier met die sanger. Dis daarom wat hy niks daarvan hou om in ʼn groot konsertsaal met 2000 mense op te tree nie. Hy verkies dit om elkeen in die gehoor in die oë te kan kyk.
“Daar het ʼn effense klemverskuiwing in my loopbaan gekom want ek wil voortaan baie meer betrokke raak by die opneem van ander kunstenaars en dan ook by die vervaardiging van hulle CD’s. Ek gaan beslis minder rondry vir konserte. Tog sal ek nooit heeltemal daarmee ophou nie. Dit bly vir my besonders want ek hou daarvan om kontak te hê met mense. Daar is vir my min dinge so bevredigend soos die gehoor/kunstenaar situasie en ek hou baie van daardie interaksie. Ek geniet dit om met die mense te praat, en die mense in die oë te kan kyk. Ek is beslis nie een van die kunstenaars wat daarop aandring dat die gehoorsaal pikdonker moet wees sodat ek niemand kan sien nie. Oogkontak is vir my ontsettend belangrik want dit is die eintlike applous. As jy kan sien wat in die mense se oë aangaan terwyl jy besig is om te sing, weet jy of jou musiek hulle raak of nie.”
Lucas is verlede jaar gediagnoseer met prostaatkanker. Die dokters het geopereer en alhoewel die operasie ʼn sukses was, kon die hele prostaat nie verwyder word nie want ʼn gedeelte daarvan was aan sy blaas vasgegroei. Lucas het van die begin af gekies om nie chemoterapie te ontvang nie, maar eerder te hou by hormoonbehandeling. Daar was al te veel mense na aan hom wat uiteindelik baie swaar gekry het weens die verlies van lewenskwaliteit wat die chemoterapie soms tot gevolg het. Die laaste nuus wat Lucas oor sy siekte ontvang het, was goeie nuus, en hy voel positief. Tog besef hy terdeë dat ons almal sterflike wesens is, en iewers, op een of ander manier, gaan ons aardse lewe tot ʼn einde kom.
“Op hierdie stadium is dit vir my belangrik om seker te maak dat ek nie meer dinge doen waarvan ek nie hou nie, want dit is tydmors. Dalk klink dit idealisties, want ek kry dit nie elke dag reg nie, maar ek probeer doelbewus om van elke dag die meeste te maak. Dit is eintlik wat ʼn mens van die begin af moes gedoen het. Vir niemand is more ʼn belofte nie. Die enigste ding wat regtig ʼn werklikheid is, is nou. Dis binne jou mag om van nou ʼn reuse sukses te maak, of ʼn verskriklike teleurstelling. Ek kies op hierdie stadium om te lewe. Ek wil nie nou al begin doodgaan net omdat ek bang is om dood te gaan nie. Eintlik moet niemand bang wees om dood te gaan nie want ons almal gaan dit regkry. Maar om te lewe, dít is moeilik… baie moeilik.”
“Ai, hoe demper plaas ek nou op die gesprek,” sê Lucas terwyl ek en hy ʼn lastige traan wegvee, maar dan spring die terggees weer uit die kas uit. “Nou sal jy nie eers weet of dit my hooikoors is wat die trane laat vloei nie.”
Lank nadat die koppie waaruit hy sy rooibostee gedrink het koud geword het, sit ons nog en kuier. Later vertel hy hoe sy vrou met die plante in haar tuin praat. Hy kan hulle ook hoor praat, sê hy met ʼn glimlag. Soms wanneer hy in die donker nag in die tuin gaan loop, krap die stekelrige blare van die palms en yuccas hom.
”Op ʼn stadium toe dit nie met my goed gegaan het nie, het ek gevoel die plante het ʼn vendetta teen my. ‘Kyk daar loop die p*&p*l waarmee sy getroud is!’ het ek hulle gereeld hoor sê tydens my maanligwandelings,” skerts Lucas.
“Ek probeer om elke dag te lewe. Ek moet elke dag iets doen sodat ek aan die einde van die dag kan sê ek het dit reg gekry, of ek het dit probéér doen. Te veel dae het ek laat verbygaan sonder om iets te probeer doen. Aan die einde van daardie dae het ek nie eers die moeite gedoen om te dink oor wat ek daardie dag reggekry het nie. Dis ʼn mors van tyd. Tydmors is een ding wat ek nie kan bekostig nie, wat niemand kan bekostig nie. Niemand besef hoe min tyd hulle het voordat hulle nie in die situasie is waarin ek nou is nie. Doodgaan is altyd iets wat met iemand anders gebeur. En eintlik is ons almal in daardie situasie. Ons móét lewe; die grootste sonde wat enigeen kan doen, is om nie ten volle te lewe nie.”
En ja, natuurlik sal hy nog steeds kan doen met ʼn miljoen, skerts Lucas, maar hy het uiteindelik vrede daarmee gemaak dat hy altyd “monetêr moedeloos” sal wees. En indien hy nou so gelukkig is om wel die miljoen te kry, is rande oukei, maar ʼn ander geldeenheid, soos sterling, sal darem soveel beter wees.
Inderwaarheid is Lucas Maree skatryk. “Dis die goeters wat jy weggee, wat jou ryk maak,” sê hy in sy liedjie, Die weduwee se kruik. Die musiek wat Lucas Maree oor meer as twee dekades aan ons gegee het, se waarde kan jy glad nie in rande, of sterling ponde meet nie!
Besoek www.miljoen.net
Besoek Lucas se Facebookprofiel by www.facebook.com/lucas.maree