Belydenis van ‘n sentimentalis

Ek wens daar was iets soos ’n AA vergadering vir die sentimentaliste onder ons. “Groep, ek is Alita, ek is 48 jaar oud en ek is ’n volslae sentimentalis. Ek sukkel om van die bagasie wat ek vir 48 jaar saamsleep, ontslae te raak. Ek probeer hard, maar hoe gooi jy ’n verjaarsdagkaartjie weg wat ’n oumagrootjie, in haar bewende 89-jarige handskrif vir jou geskryf het? Hoe laat val jy die foto van die heel eerste blomme wat ’n man ooit vir jou gestuur het, nogals blou gespuite angeliere ;-) , in die asblik? Maar ek probeer. Die probleem is net soms voel ek ek gooi ’n stukkie van myself weg elke keer wanneer ek iets moet laat gaan. Liewe groep, is daar hulp vir my?”
Nouja, sulke sessies bestaan gelukkig, of is dit nou ongelukkig, glad nie. Die mense wat my oor die jare goed leer ken het, sal weet dat my trane altyd vlak sit. Ek sukkel om totsiens te sê, afskeid te neem, mense te laat gaan. So was dit vir my geweldig swaar om in die jaar wat verby is eers vir my skoolvriendin Karin, wat besonder na aan my is, en toe later my sus en haar gesin, totsiens te sê. Gelukkig het hulle almal, net tydelik verhuis.
Maar moenie my glo dis net mense nie. Ek huil nou nog oor ’n geliefde hond wat nou al vyf jaar dood is, maar wie se voetstappe ek soms, in ’n oomblik van weerloosheid, presies onthou. Ek kan die kyk in sy oë, met helderheid, oproep.
Binnekort kom ek weer voor ’n uitdaging te staan, wel dis nou ’n uitdaging vir enige sentimentalis. Ander sien dit as ‘n kans om van gemors ontslae te raak. Ek pak op nadat ek meer as vyf jaar in my huis in Meyerton gebly het. Daar wag ’n opwindende nuwe lewe in ’n huis in Pretoria, saam met die man vir wie ek baie lief is, op my. Dis net dat ek so sukkel om die dinge aan hierdie kant bymekaar te maak, en ander te laat gaan.
Iewers in die tuin, onder die doringbome wat ek self geplant het, lê ou Millie begrawe. My gekolde worshond, wat ek sommer ou Kolletjieskop genoem het. Hoekom sy daardie wintersoggend vroeg ’n gat onderdeur die muur gegrawe het, dit terwyl haar werpsel babahondjies in die koue vir haar gewag het, sal net sy weet. Ek het haar die volgende oggend daar langs die pad gaan optel. Daar was nêrens bloed aan haar lyf nie. Dit het net gelyk of sy slaap. Millie moet hier agterbly, sy kan nie saam nie. Boonop het ek net Sondagoggend gehoor een van haar gekolde nageslag, ongelukkig nie ’n volbloed wors nie, maar besonder mooi met sy een ligte blou ogie, is op die plaas waar hy drie jaar gebly het, vergiftig. Dit maak dit nog swaarder om vir Millie hier te los.
Onlangs het Petronell van die universiteit af gekom om die kas in haar kamer op te ruim en in te pak. Ek was nie die naweek tuis nie, en het maar net gewonder wat alles in die swart sak is wat sy in die motorhuis neergesit het om sam met die vullis weg te gooi. Op ’n Donderdagoggend plaas ons ons swartsakke buite die hek van die kompleks sodat die vullislorrie dit kan wegry. Vroegoggend is daar ’n klomp mense wat naderstaan en deur die sakke grawe vir enigiets bruikbaar. Verlede week sit ek toe Petronell se sak daar neer. Ek weet ek moenie binne in kyk nie. As sy reken iets moet weggegooi word, wie is ek om te stry?
Later die dag ry ek dorp toe en ek sit voor die hek terwyl dit toeskuif. Die voorsitter van die beheerliggaam is immers baie kwaai as jy wegry sonder dat die hek toe is. En toe vang hy my oog: die tuinwerker wat by die huis oorkant ons kompleks werk. Ewe vrolik stoot hy die kruiwa in die erf rond. Op sy kop pryk die narrehoed wat ek meer as ’n dekade gelede vir Petronell op die KKNK gekoop het. Ek het voor daardie fees onderneem om vir haar en Amanda elkeen so ’n hoed saam terug te bring. Dit was omtrent ’n gesukkel om die twee groot hoede terug in Gauteng te kry, maar die vreugde oor die hoede was groot.
En nou loop die tuinwerker met my kind se hoed op sy kop rond. Die hoed wat twee trekke, van die plaas na die huurhuis en van die huurhuis na die meenthuis, oorleef het. Hoekom dink ek skielik aan Doris Brasch se “Lappop”: Iemand het ’n lappop, op die ashoop weggegooi… Die hoed is ook verbleik en nie meer mooi nie, en tog sou ek dit nooit self weggegooi het nie. Indien dit van my afgehang het, sou dit saamgetrek het Doringkloof toe.
Toe ek Amanda later by die skool gaan haal, sê ek vir haar om vir die tuinwerker te kyk. Ek het trane in my oë en is duidelik ontsteld. Sy lag so dat sy amper die motor in die oprit laat vrek. “Hy dra Petronell se hoed,” sê sy. “Dis hondsnaaks!” Toe ek nie saam lag nie sê sy: “Ma, dis nie so erg nie!”
Ja my kind, dis seker nie so erg nie. Dit sou net veel veel makliker gewees het as ek nie so ’n verduiwelse sentimentele sot was nie. Dan sou ek ook dalk daaroor kon lag.
Ek is iemand wat onwrikbaar aan herwinning glo. Ten minste het die hoed, wat vir Petronell van geen waarde meer is nie, so ’n bietjie kleur in die tuinwerker se lewe gebring. Die hoed het ’n tweede lewe gekry. Is ons nie almal dankbaar as daar so ’n stuk genade na ons kant toe kom nie?
“Liewe Groep, ek weet presies hoe groot my probleem is, maar ek probeer. Onthou, ek is eintlik maar net “a work in progress”, soos vele ander. Ek kon dit darem al regkry om my kind se uitgeslagte verstandtande in die asblik te gooi. Dankie dat u na my geluister het…”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Connecting to %s


Follow

Get every new post delivered to your Inbox.